Wednesday, August 7, 2013

FLIPPEN SNAAKS

Liewe Kersvader,
Hoe gaan dit met Oom? En met Tannie Krismis? Ek hoop al die takbokke en die
Elwe is ook almal gesond.
Soos u seker weet, was ek die jaar ʼn baie soet seun. Ek sal asseblief ʼn X-Box 360
met Grensvegter klaar gelaai, en ʼn nuwe Apple IPhone 5 wil ontvang vir Kersfees.
Groete en ʼn Geseende Kersfees,
Bennie Botha

Liewe Bennie,
Dankie vir jou mooi briefie. Die tannie, die takbokke en al my helpertjies is almal
blakend gesond en hulle laat weet dankie dat jy uitvra na hulle. Kersvader is egter
bekommerd dat jy te veel tyd spandeer met videospeletjies en selfoontekse stuur.
Jy is juis besig om bietjie lywig te raak weens te min oefening. Daarom, en
omdat jy so soet was, dink ek dat ek liewer vir jou ietsie gaan bring waarmee jy
buite kan speel en van daai ekstra vetjies ontslae raak.
Geseende Kersfees,
 

Kersvader

Geagte Mnr. Kersfees,
Siende dat ek my deel van ons soet teenoor stout kontrak nagekom het, voel ek
vol vertroue dat u ʼn plan sal maak om my te gun wat my toekom. Ek wil nie
graag hierdie feestyd skend en omskep in ʼn hofgeding nie. Verder dink ek dis
bietjie vermetel om te verwys na my gewig, veral komende van ʼn oorgewig man
wat maar een keer per jaar buite kom.
Hoogagtend die uwe,
Ben Botha

Meneer Botha,
Hoewel ek toegegee het dat jy jou beter gedra het die jaar, moet ek jou daarop
wys dat jou Kerslys slegs ʼn versoeklys is en op geen manier ʼn waarborg is dat
dienste gelewer sal word nie. Dis egter jou volle reg om wetlike stappe te neem,
maar neem kennis dat ek en my prokureurs al suksesvol sake doen sedert
Dierebeskerming my aangevat het oor die werkslas van my takbokke. Ek is dus
meer as gewillig om jou aan te vat in die hof. Verder wil ek ook net byvoeg dat
die oefening wat ek voorskryf, nie net jou gesondheid sal verbeter nie, maar dit
sal jou ook help met jou sosiale interaksie en selfs van daardie klomp puisies op
jou gesig laat opklaar.
Die Uwe,
Kersvader

Kyk hier Vettie,
Ek het jou nou klaar laat weet wat ek wil he en ek verwag dat jy dit vir my gaan
bring. Ek was maar net beleefd. Maar nou, omdat jy my in die gesig vat en my
vriende ook nog bysleep, gaan ek hulle juis teks en ons gaan vir jou met jou
dikgat inwag en ek gaan VAT uit daai sak van jou NET WAT EK WIL!
Breker Botha

Luister Pizzagevreet,
Is jy gerook? Dink jy ʼn ou wat by ELKE huis in die wereld inbreek in een nag,
sonder om gevang te word, gaan skrik vir ʼn snotneus soos jy? Ek weet wanneer
jy slaap en ek weet wanneer jy wakker is, jou klein stront. Besef jy hoeveel
kontakte ek het, my pel? Ek is bedraad, ou maat! Op my rondtes sien ek siek
goed. Ek het maniere om jou te laat bloei waar mens nie wil bloei nie. As ek jou
moet vertel, skiet jy net daar ʼn kat op jou ma se duur persiese mat. Wees
verseker jy gaan nie kry wat jy voor gevra het nie, maar ek gaan steeds opdaag
en dan kan ons bietjie jou pyndrumpel toets.
KV

Liewe Kersvader,
Bring vir my net wat jy wil, ek sal ENIGE IETS waardeer!
Bennietjie
 
 
 
 
 
 
 

 
 
 

No comments:

Post a Comment